Van droogte kan niemand ons enigiets vertel onder hierdie warm Afrika son nie. Warm en droog was dit ook die afgelope paar jaar. Die hartklop van ‘n nasie. Die lewensaar. Die stille hulpkreet van ‘n boer – gebede in die harte en hoop in hulle oë, terwyl die droë weivelde oor die vlaktes strek.
Wat jy saai sal jy maai … maar dis nie wat in dié geharde boerenasie se gedagtes omgaan terwyl daar ure beraadslaag word oor boeretroos en harde beskuit gaan nie. Die swaar kry van ‘n ander. Dit is wat saak maak. Manne, dis tyd om hande te vat en mekaar nie te los nie.
Blikbekers kan leeg raak, beskuitblikke leeg, maar planne is die ding wat nooit te kort skiet nie. Koppe word gekrap, maters word gebel, hulp word ingeroep.
Vragmotors met voer gelaai, trek uit Middelburg MP weg. Namakwaland toe. Daar is groot afwagting in elke dorp waar hulle deurry of selfs net verby gaan. Motorfietse brul, bakkies en motors met noodligte begelei hierdie trotse manne met hul kosbare vrag. Nooddienste hou wakende ogie. Mense trek saam, toebroodjies, koeldrank en koffie word uitgedeel. Vragmotor se uitbundige toeet-toeet begroet elke vrolike gewaai. ‘n Jolige okkasie sou ek sê.
Met die genade van Onse Here is almal veilig en is die voer veilig op dankbare boere se plase afgelaai. Hoop is terug, al wag hul nog vir die reen en die veld ….
So baie mense om voor dankie te sê …. Elkeen weet wat hul deel was.
Wie vandag die dankie kry is die groep vrywilligers wat agter die skerms sit en die konvooi met ‘n liefdevolle oog dophou. Elke Suid-Afrikaner op hierdie whatsapp groep weet van elke boodskap wat getrou en op tyd gestuur is. Saluut vir julle wat julle kosbare tyd opgeoffer het om hierdie span op die pad te hou, almal op hoogte te hou. Julle besef nie jul waarde nie.
Ry Veilig Admins – julle kook!