Monday, March 11, 2019

Die almanak kondig Maart herfs amptelik aan. Die temperatuur het egter nog nie die nota gekry nie. Die somerreënvalgebiede se reënwolkies is nog suinig om hul balies vol water te kom uitgooi. Iewers van daar tot hier, hoor ons hoe van die stouters se balies mors oppad hierheen. Steeds is die natuur so dankbaar vir elke druppel water.
Soos wat die seisoen stadig maar seker verander, en die winter ‘n deel van die land asvaal en ‘n ander spierwit los, breek hier ‘n tyd vol kleur van geel, oranje en rooi uit. Soos wat die bome hul blare afskud, die grassies hulle blare bêre, maak hulle hulself reg vir ‘n tyd van rus en hernuwing. Rose en wingerde word gesnoei, gras word gesny om al die ou los gras “op te tel”. Die wind kom blaas met bol wange die lente aan met sy verfrissende persoonlikheid. Sagte reën val, stjie stjie hoor jy die die die opgewonde spreiers vroeg oggend. Buite bars alles weer uit hul nate vol nuwe lewe. ‘n Seisoen waar bloeisels vrugte word, roosknoppies word bosse rose.
So baie kan ons uit die natuur leer. Ons moet ook ons self kans gee om die gisters daar te los, om jouself te vergewe, ander te vergewe, jouself kans te gee om seer in jou lewe gesond te maak. Vir vandag te lewe, die mooi in elke dag te sien. Die blomme te ruik, die voeltjies te hoor, jou koffie te proe, na ‘n kind te te luister, vir iemand te glimlag. As more vir jou gegun word, kan jy met nuwe krag en lewenslus die dag aanpak.
Mag elke seisoen in jou lewe geseend wees, al het jy 4 seisoene in elke dag. Rus veilig by Jesus voete elke nag en mag jy soggens saggies wakker word met die geritsel van engel vlerke wat oor jou gewaak het. Leef in die wete dat jy spesiaal gemaak is, dat jy uniek gemaak is. Dat jy JY is. Jy is niemand anders en niemand anders is jy nie.

No comments:

Post a Comment